Covid-19: Bykomende maatreëls vir hoofstad

Stadpolisie dwing stappe af


Windhoek se burgemeester, me. Fransina Kahungu, het gisteroggend verskeie bykomende maatreëls vir die volgende 30 dae afgekondig om die verspreiding van Covid-19 te beperk.


Die stadsraad het verlede week tydens 'n spesiale vergadering hierop besluit.


Kahungu het beklemtoon die maatreëls is onderhewig aan verandering en sal aangepas word by enige regulasies of beheermaatreëls wat die regering afkondig.


Sy sê die stadspolisie gaan ingespan word om maatreëls af te dwing.


Dit sluit in:


BESIGHEDE


• Sjebeens se besigheidsure is voorts 12:00 tot 19:00 (Landswyd sluit sjebeens egter 18:00.)


• Kroeë en nagklubs se besigheids­ure is 20:00 tot 24:00


• Alle winkels, kroeë en besighede moet maatreëls instel om kliënte te beskerm, soos die verskaffing van alkoholgebaseerde handreinigers


• Besigheidseienaars moet seker maak winkels is nie oorvol nie en dat kliënte 'n veilige afstand van mekaar handhaaf


• Markte en nywerheidstalletjies sal oop bly, maar handelaars moet voorsorgmaatreëls en praktyke vir goeie higiëne toepas


• Die munisipaliteit sal markte behoorlik skoonmaak en ontsmet


• Onwettige straatverkopers sal verwyder word


• Akkommodasiegeriewe moet werkers van handreinigers en maskers verskaf


• Gaste se volle reisgeskiedenis moet aangeteken word, asook waarheen hulle volgende reis


• Gesondheidsowerhede moet onmiddellik gekontak word as 'n gas simptome van Covid-19 toon



WATER, SANITASIE


• Die munisipaliteit sal meer waterpunte op strategiese plekke in informele nedersettings beskikbaar maak


• Diegene wie se water weens wanbetaling afgesny is se watertoevoer sal vir 30 dae herstel word


• Skoonmakers by openbare toilette sal van beskermende klere verskaf word


• Openbare toilette sal voortdurend ontsmet word, terwyl beskadigde toilette herstel sal word


ALGEMEEN


• Byeenkomste van meer as 50 mense word opgeskort – dit sluit in skole, godsdiensbyeenkomste, troues en begrafnisse


• Begrafnisse wat nie verband hou met Covid-19-sterftes nie, moet tot 50 mense beperk word, terwyl sosiale afstand, handewas en ander higiëniese maatreëls gehandhaaf moet word


• Covid-19-begrafnisse sal deur die regering hanteer word, met steun aan families



MUNISIPALE GEBOUE


• Alle toegangspunte tot munisipale geboue sal met handreinigers asook water en seep toegerus word en voortdurend ontsmet word


• Skandeerders sal by alle ingange gebruik word


• Die publiek word aangeraai om navrae telefonies of per e-pos te rig en van die munisipaliteit se aanlyn betaalmetodes gebruik te maak


• Die munisipaliteit sal maandelikse rekeninge per e-pos stuur



VERVOER


• Munisipale busse en voertuie sal ná elke keer se gebruik ontsmet word


• Busbestuurders sal handreinigers, maskers en handskoene ontvang


• Eienaars van openbare vervoer moet hul voertuie ontsmet en seker maak kliënte se hande word ook ontsmet


- Voertuie mag nie oorvol wees nie

52 views

© 2020 By NMH