Covid-19 is ‘droogte’ van ander aard


Boere wat op jag, toerisme steun erg geraak


Ronelle Rademeyer - Die Namibië Landbou-unie (NLU) het verlede week ná die nasionale noodtoestand afgekondig is om die verspreiding van die coronavirus in Namibië te beperk, ’n spesiale nuusbrief aan lede gestuur oor hoe plase veilig gehou en plaasarbeiders beskerm moet word.


Mnr. Piet Gouws, president van die NLU, het in ’n videoboodskap aan die landbougemeenskap gesê groot gedele van die land is steeds vasgevang in die wurggreep van die droogte. Nou het Namibië en sy landbougemeenskap met ’n “droogte” van ’n heel ander aard te doen en niemand gaan die ekonomiese impak daarvan gespaar bly nie, het hy gesê.


“Drastiese tye vra drastiese maatreëls,” het hy met verwysing na die noodtoestand gesê, en bygevoeg “hopelik kry Namibië dit (die reis- en sosiale inperkings) in die kortste moontlike tyd agter die rug”.


Met verwysing na die reisverbod wat op 14 Maart afgekondig is vir toeriste uit Europa, Brittanje, Amerika en ander hoërisikolande, sê hy dit gaan ’n enorme impak op die jag- en toerismebedryf hê. Baie Namibiese boere in gediversifiseerde boerderye steun hierop en hulle gaan erg geraak word.


“Niemand gaan nié geraak word nie. Niemand weet wat die naskok en rimpeluitwerking gaan wees nie. Net die tyd sal ons leer,” sê hy in sy boodskap.


Gouws wys daarop dit is kritiek belangrik dat die bemarking en die slag van vee voortgaan en die uitvoer van vleis nie geraak word nie, ten einde die negatiewe impak van die pandemie op die landbousektor te minimaliseer.


Die landbou-ekonoom en rubriekskrywer dr. Kobus Laubscher sê namate die ekonomie se ratte deur maatreëls en regulasies tot stilstand knars, sal die impak op die landbou duideliker sigbaar word.


“Die rooivleis-waardekettings gaan nie noodwendig ophou bestaan vir sover dit die aanbodkant betref nie. Aan die vraagkant kan dit verander. Die vraag na beeste en skape is ’n afgeleide vraag van wat die verbruiker wil eet en kan bekostig.


“’n Groot deel van dié vraag word buite die huis bevredig en die verbod op samekomste ontmoedig sosialisering, met die gevolg dat eetplekke kan toemaak. Verder gaan die verstadigde ekonomie ook werkloosheid aanvuur. Wat verder kan bydrae tot verminderde koopkrag, is dat verbruikers aan hul besteebare geld gaan vasklou om in hul behoeftes te kan voorsien indien die omstandighede voorkant toe versleg,” waarsku Laubscher.


VEILINGS EN VLEISAANLEGTE


Agra het in ’n verklaring gesê sy veilings sal tot verdere kennisgewing nie gekanselleer word nie, maar net 50 mense in totaal sal toegelaat word.


Boere, veilingsagente en ander belanghebbendes word egter daarop gewys dat mense mekaar nie met die hand moet groet of druk nie.


Hulle word versoek om ten minste een meter uit mekaar te sit of staan en die riglyne vir goeie higiëne te volg soos om hande deeglik te was, in die waai van die elmboog te nies of te hoes en alle oppervlaktes waaraan hulle raak, gereeld met seep en warm water te ontsmet.


Mense wat hoes, koors het of kortasem is, moet nie veilings bywoon nie.


Verder sal net Agra se personeel in die administratiewe kantoor en by die afslaerspodium toegelaat word.


Daar sal afgebakende gebiede vir kopers en verkopers wees en hulle sal een vir een deur die administratiewe personeel gehelp word.


Meatco het op 15 Maart aangekondig dat alle besoeke deur mense van buite by sy fabriek in Windhoek gestaak word.


SUID-AFRIKA EN ELDERS


AgriSA het gewaarsku die Covid-19-uitbreking kan die buurland se reeds brose ekonomie verder vertraag.


Dié landbou-organisasie maan volgens Netwerk24 dat kommoditeite wat op uitvoere staatmaak, deur ’n laer vraag in die gesig gestaar word.


AgriSA meen ook logistieke beperkings kan ’n invloed op uitvoere hê.


’n Landboutaakspan is in Suid-Afrika saamgestel om die bedryf se belange te midde van die krisis te bestuur, berig Landbouweekblad.


Intussen het die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) verlede week gewaarsku bewegingsinperking en paniekaankope van kos weens die Covid-19-pandemie kan voedselinflasie laat styg. Dit is ondanks die feit dat die vernaamste uitvoerlande tans oor genoegsame voorrade stapelgrane en oliesade beskik.


“Al wat jy nodig het is paniekaankope deur meulenaars of regerings om ’n voedselsekuriteitskrisis te skep,” het mnr. Abdolreza Abbassian, hoofekonoom van die FAO, gesê.


Die Internasionale Navorsingsinstituut vir Voedselbeleid (IFPRI) sê die pandemie is ’n gesondheidskrisis, maar kan baie maklik tot ’n voedselsekuriteitskrisis lei as behoorlike maatreëls nie ingestel word nie.


Volgens dié instituut moet wêreldhandel sonder haakplekke kan voortgaan en moet die wêreld gebruik maak van die internasionale markte om voedselvoorsiening onbelemmerd te laat voortgaan.


Die IFPRI sê instansies soos die Wêreldhandelsorganisasie, die FAO, Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds moet lande versoek om nie Covid-19 as ’n verskoning te gebruik om beskermende handelsbeleide in te stel nie.

© 2020 By NMH