Kan nie meer


WILLEM DE WET SKRYF:


Ek sien Maandagoggend op my selfoon my alarmstelsel by my kantoor in Windhoek wys die stelsel se battery is pap. Ek bel my sekretaresse en vra sy moet die hokreëls nakom en asseblief gou gaan kyk wat fout is.


Ek maak koffie by my huis op Mariental en lees die koerant.


Op bladsy 3 lees ek werknemers moet in Maart en April volle betaling kry en as werkgewer sal ek moet aanhou salarisse betaal hoewel my besigheid toe is en ek nie eers my eie salaris kan betaal nie. Ek lees nêrens vakbonde sal nie ledegeld van salarisse verhaal nie, dat Social Security, PAYE en ander 'n bietjie verligting gaan gee of dat die regering werkgewers tegemoet sal kom met 'n belastingvakansie nie. Niks.


Die werkgewer se geld val mos uit die hemel en hy het onbeperkte hoeveelhede geld beskikbaar, al kan Covid-19 veroorsaak dat baie binnekort werkloos kan wees. Ek sal dalk saam met my werknemers in die ry moet gaan staan vir 'n kospakkie.


Ek bedink my en begin somme maak oor wat ek kan doen om die versoek na te kom. Waar kan ek spaar en wat kan ek verkoop? En toe lui my foon.


"Willem, hulle het by die kantoor ingebreek en alles gesteel. Dit wat hulle nie kon steel nie het hulle stukkend gesny en gebreek. Alle kaste se inhoud is op die vloere uitgegooi en die files lê die wereld vol. Die kluis is oopgesny, alarm uitmekaar geruk, heining stukkend gesny en die elektriese heining se drade hang flenters. Kussings en duvets is stukkend gesny en vere lê die plek vol." Ensovoorts, ensovoorts.


Comrade Bro-Matthew en die ministerie, ek het slegte nuus vir julle. My positiwiteit is by die venster uit en my hand van hulp is leeg. Julle sal nou vir my ook moet help, asseblief. Ek staan nou saam met my werkers in die ry.


Ek het in goeie gees en ter wille van ons plig teenoor ons medemens weens die Covid-krisis my kantoor toegemaak en almal huis toe gestuur soos versoek. Net om medeburgers die kans te gee om ongestoord my bron van inkomste te verwoes.


Ek vertrou Comrade Bro en die regering het planne om ons te help. My gô is nou uitbemagtig, -herverdeel, -belas, -gekorrupteer, -geïntimideer en opbesteel. My sak is leeg en my batterye is pap. Ek kan nie meer nie en ek en my werkers sluit nou by die geledere van die werkloses aan in ons stryd om Covid-19 en ekonomiese ondergang te probeer voorkom.


Vertrou op u begrip.

© 2020 By NMH