Khomas, Erongo gehok


Volslae oorlog, sê Geingob


Denver Kisting – Pres. Hage Geingob het laat gistermiddag by Staatshuis met die aankondiging van verskerpte Covid-19-maatreëls, gesê: “Dis nou ’n volslae oorlog.”


Die aanvullende maatreëls sluit in:


· ’n Reisverbod na alle lande ter wêreld vir 30 dae vir Namibiërs en diegene met permanente verblyf.


· Uitsonderings sal geld vir sommige mense om Namibië binne te kom afhangend van die aard van die reis en hoe belangrik die sending is wat nasionale belang en veiligheid en sekuriteit van Namibië betref.


· Alle Namibiërs en diegene met permanente verblyf wat terugkeer uit hoërisikolande is onderworpe aan verpligte kwarantyn onder toesig vir 14 dae op eie onkoste.


· Spesiale reëlings sal wederkerig geld vir kommersiële sake en handel met buurlande om goedere en dienste te lewer.


· Alle regeringsamptenare, staatsdiensbeamptes en mense in die private sektor moet, waar van toepassing, vir die volgende 14 dae van die huis af werk, behalwe as hulle ’n kritieke diens lewer. Die kategorieë wat hierdeur geraak word, sal binne die volgende dae aangekondig word.


· Die publiek word versoek om tuis te bly, openbare saamtrekke te vermy, soos by kroeë, sjebeens, nagklubs en markte. Wetstoepassers sal dié maatreëls afdwing.


· ’n Interne reisverbod sal geld vir die Khomas- en Erongostreek vir 21 dae van middernag op Vrydag 27 Maart tot Donderdag 16 April 2020. Padblokkades sal opgerig word om dié maatreël toe te pas. Vir doeleindes van die verbod sal mense wat op Rehoboth woon wel mag Windhoek toe en terug reis omdat baie mense in die hoofstad werk. Dieselfde geld vir inwoners van Okahandja.


· Die volgende grensposte is toe: Oshikango, Katwitwi, Wenela, Buitepos, Ariamsvlei, Noordoewer, Lüderitz en Walvisbaai.


· Parlementsittings word opgeskort vir 21 dae van vandag (25ste) tot Donderdag 14 April.


· Private gesondheidsdiensverskaffers moet die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste onmiddellik in kennis stel van enige vermoedelike Covid-19-geval.


· Verdere maatreëls sal afgekondig word soos die situasie ontvou.


Op ’n vraag oor hoekom honderde mense Saterdag Geingob se inhuldiging by Staatshuis bygewoon het ondanks die noodtoestand, het die staatshoof geantwoord: “Dis jou siening. Ons het ’n baie ernstige besluit geneem om die onafhanklikheidsvieringe te kanselleer.”


Volgens hom was daar binne sekere kringe “die hoop dat daar geen inhuldiging sou wees nie. Miskien is julle teleurgesteld.”


Geingob het herhaal wat hy Saterdag gesê het dat hy dankbaar is teenoor sy eweknieë uit die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) omdat hulle hul lewens op die spel geplaas het om die verrigtinge mee te maak.


Geingob is vroeër gekap oor die geleentheid by Staatshuis wat deur honderde mense bygewoon is.


Hy het gister gesê Namibiërs se gesondheid geniet tans voorkeur.


Die jongste maatreëls het ten doel om die opsporing, toetsing, kwarantyn en isolasie van pasiënte te versterk, het hy gesê. “Covid-19 bedreig nie net die lewens van Namibiërs en die openbare gesondheidstelsel nie, dit hou ook negatiewe ekonomiese gevolge in wat die oorlewing van besighede, werke en bestaan bedreig.”


– denver@republikein.com.na

18 views

© 2020 By NMH