Meatco se fabriek heropen Woensdag


Ronelle Rademeyer - Meatco het in die lig van die staatsproklamasie wat die landbouwaardeketting as ’n noodsaaklike diens verklaar en ná gesprekke met die ministers van landbou, water en grondhervorming, asook staatsondernemings, mnre. Calle Schlettwein en Leon Jooste, besluit om sy fabriek vroeër te heropen.

Anders as wat vroeër aangekondig is, sal Meatco weer op Woensdag 8 April begin slag en nie wag tot Maandag 20 April nie, sê me. Rosa Hamukuaja-Thobias, bestuurder van korporatiewe sake by Meatco.

Sy sê “robuuste maatreëls” sal ingestel word om die veiligheid van personeel te verseker.

“Produsente moet daarop te let dat al ons bedrywighede in die lig daarvan dat ons onderneming as ’n noodsaaklike diens gelys word, onderhewig aan Covid-19-veiligheidsmaatreëls vanaf Woensdag soos normaal sal voortgaan,” sê sy.

“Meatco se bestuur is besig met die implementering van ’n aantal veiligheidsprosedures en die aanpassing van die onderneming om doeltreffend sake te doen en terselfdertyd die impak van die Covid-19-pandemie te verminder. Onder hierdie veiligheidsmaatreëls is die veiligheid van ons personeel en die nakoming van streng inperkingsprotokolle wat van kritieke belang is vir ons personeel se gesondheid asook dié van die publiek.”

Hamukuaja-Thobias sê die slagting van beeste sal hervat en onderhou word “onderworpe aan die regulasies wat van tyd tot tyd deur die regering aanvaar word”.

Produsente wat deur hierdie reëlings geraak word, is reeds oor hul nuwe slagdatums gekontak.

Recent Posts

See All

© 2020 By NMH