Nóg 3 Namibiërs het virus

Land sal stryd wen


Henriette Lamprecht - “Ons leef as ’n land tans in uitdagende tye. Die Namibiese nasie moet weet wat ons prioriteite is en wat tans in die land gebeur.”


Só sê die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, met die aankondiging dat nog drie mense, al drie Namibiërs, positief vir Covid-19 getoets het.


Die negende geval is ’n 35-jarige vrou wat in Suid-Afrika woon en op 20 Maart in Namibië aangekom het.


Op 24 Maart het sy ’n private dokter besoek wat haar aangeraai het om haarself te laat toets.


Sy het haar positiewe uitslag op 27 Maart ontvang.


Haar toestand is stabiel en sy is in ’n isolasie-eenheid opgeneem.


Die 10de geval is ’n 33-jarige Namibiese vrou wat in Maart na Dubai, Ethiopië en Johannesburg gereis het. Sy het op 26 Maart ’n dokter besoek en is plaaslik by die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) getoets.


Die 11de geval is ’n 69-jarige man wat na Johannesburg gereis het en op 12 Maart na Namibië teruggekeer het. Hy het op 25 Maart ’n dokter besoek en sy positiewe uitslae is Saterdag van NIP ontvang.


Volgens Shangula word almal wat met dié mense in kontak was, opgevolg om simptome te monitor en te verseker doeltreffende kwarantyn word toegepas.


Hy sê alle positiewe gevalle word versorg.


Volgens Shangula het gevalle in ander lande getoon die meeste mense wat positief vir die siekte toets, het matige simptome en benodig nie hospitalisering nie.


“Vir dié wat dit wel nodig het, het ons voorkeur verleen aan kapasiteit, opleiding en voorbereiding van hospitaalpersoneel, die beskerming van ons gesondheidswerkers, koördinering met private hospitale en die verhoogde kapasiteit vir intensiewe sorg,” sê Shangula.


Met verwysing na kwarantyn het die minister gesê net Namibiërs en mense met permanente verblyfreg en domisilie mag die land binnekom. Elk is aan 14 dae se kwarantyn onderworpe.


“Reisbeperkings beteken skandering by alle land-, see- en luggrensposte vir dié wat nog die land binnekom, en kwarantyn vir dié wat die risiko geloop het om in die land waar hulle vandaan kom, aan die virus blootgestel te kon wees,” sê hy.


Volgens Shangula word ’n eenheid met 12 beddens ook tans by die Windhoek Sentrale Hospitaal gebou, wat vandeesweek aan die ministerie oorhandig sal word.


Hy sê in ander streke en veral by distrikshospitale is die land en die ministerie se gereedheid vir Covid-19-gevalle ook opgeskerp.


Dit sluit die voorbereiding van kwarantyn- en isolasiegeriewe in.


“Ons sal die stryd voortsit. Dit gaan iets van ons elkeen vat, maar Namibië sal die stryd wen.”


Intussen het Namibia Wildlife Resorts (NWR) aangekondig Hobas Lodge is gesluit ná ’n Franse toeris wat positief vir Covid-19 getoets het, vir ’n week hier tuisgegaan het.


Klein-Aus Vista het ook noodgedwonge sy deure gesluit omdat dié toeris ook hier tuisgegaan het.


- henriette@republikein.com.na

10 views

© 2020 By NMH