Namibië het nou 7 Covid-19-gevalle


Pres. Hage Geingob het vanmiddag by Staatshuis meer ingrypende voorsorgmaatreëls teen die verspreiding van die nuwe coronavirus in Namibië voorgestel.

Dit volg nadat aangekondig is Namibië het nou sewe gevalle van Covid-19. Die gesondheidsminister dr. Kalumbi Shangula het vanmiddag aanvanklik aangekondig daar is ses gevalle, en later aan joernaliste gesê ‘n sewende geval is bevestig.

Die eerste geval van plaaslike oordrag is aangemeld. 'n Namibiër wat geen reisgeskiedenis het nie en vermoedelik plaaslik geïnfekteer is, het positief vir Covid-19 getoets. Saam met 'n student van Wits wat vanuit Suid-Afrika na Namibië teruggekeer het, en vandag ook positief getoets het, staan die totale aantal Covid-19 gevalle tans op 6, het hy aanvanklik gesê en daarna geval nommer 7 aangekondig, sonder om nader besonderhede bekend te maak.

Die publiek is gelas om tuis te bly en openbare saamtrekke by plekke soos sjebeens, kroeë, nagklubs en markte te vermy. Wetstoepassers sal toesien dat mense nie oortree nie.

Binnelandse reisbesperkings is vir die streke Khomas en Erongo ingestel. Dit tree Vrydag 27 Maart in werking en sal tot Donderdag 16 April geld. Dr. Bernhard Haufiku, die nasionale koördineerder van die Covid-19-taakspan, het verduidelik Khomas sal in dié verband Rehoboth en Okahandja insluit aangesien so baie mense hierdie dorpe af na werkplekke in Windhoek pendel.

Padblokkades sal suid van Rehoboth, oos van die Hosea Kutako Internasionale Lughawe en buite Okahandja opgestel word.

Verder is die volgende grensposte en hawens vir besoekers gesluit:

•Oshikango

•Katwitwi

•Wenela

•Buitepos

•Araimsvlei,

•Noordoewer

•Lüderitz

•Walvisbaai

Die minister van binnelandse sake en immigrasie, mnr. Frans Kapofi, het gesê Namibië se noordelike grens tussen sy buurlande is baie “porieus” omdat mense oor en weer tussen buurlande en Namibië beweeg.

Die parlement sal vir 21 dae nie sit nie – vanaf Woensdag 25 Maart tot Donderdag 16 April.

Verder is private medici gelas om die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste dadelik in kennis te stel van vermoedelike Covid-19-gevalle.

© 2020 By NMH