NMH skenk toerusting, kospakkies vir padblokkades


In ’n poging om die vinnige vloei van noodsaaklike vragverkeer by die vier padblokkades na die Khomasstreek te bewerkstellig, het Namibia Media Holdings (NMH) gister twee digitale voorkop-termometers aan elk van die padblokkades geskenk.


Dié mediahuis gaan ook in samewerking met ander belanghebbendes in die vervoer- en logistiekbedryf kospakkies verskaf aan die beamptes wat die padblokkades beman.


Volgens me. Maggy Mbako, skakelbeampte van NMH, is die verspreiding van koerante ‘n noodsaaklike diens.


“Inligting bemagtig ons gemeenskappe en Namibiërs moet in hierdie moeilike tyd van inperking en die streng maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die coronavirus te voorkom, toegang tot koerante en ander nuusmediums hê,” sê sy.


Probleme is tydens die eerste vier dae van die afgekondigde grendeltydperk by die padblokkades suid van Reboboth, by Seeis asook by die twee buite Okahandja ondervind. Dit was enersyds vanweë kommunikasie-uitdagings, maar ook vanweë ‘n tekort aan toerusting soos digitale voorkop-termometers en mediese personeel, verduidelik sy.


“Vragmotorbestuurders se koors moet ingevolge die reëls gemeet word. Wanneer daar nie personeel by padblokkades beskikbaar is om dit te doen nie, moet vragmotors soms vir ure wag. Die Namibiese weermag (NDF) het intussen begin om opgeleide mediese personeel beskikbaar te stel, en NMH het besluit om as inligtingsvennoot in die stryd teen Covid-19 met die nodige toerusting te help.”


Sy sê dit is belangrik dat die personeel wat die padblokkades beman, kos kry.


“As mense honger en dors is, verhoog dit die frustrasievlakke. Daarom gaan ons saam met ander belanghebbendes toesien dat kospakkies afgelewer word.”

© 2020 By NMH