Noodtoestand: ‘Niks is normaal’


Denver Kisting - Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê Namibiërs bevind hulle midde-in ’n buitengewone situasie. “Ons is in ’n noodtoestand. So, niks is normaal nie.”


Sy sê dít sal ’n vlak van buigsaamheid verg in die manier hoe die die regering se regulasies benader word wat Namibiërs se gedrag tydens dié tydperk moet beheer.


Dausab het opnuut benadruk een van die regulasies maak al die vereistes van die Covid-19-proklamasie op die hele land van toepassing.


Dit sluit in die beweging van mense, wat mense mag en nie mag doen nie, wat noodsaaklike dienste behels en diegene wat van die huis af moet werk, sê sy.


Dit sluit ook in hoe ’n mens mag oefen (net drie op ’n slag saam) en wanneer ’n mens die huis mag verlaat (net vir noodsaaklike dienste en goedere).


Dausab het toegegee die regulasies is nie volmaak nie, maar hulle monitor die situasie tot môre (Vrydag) voordat moontlike wysigings hieraan aangekondig sal word om “stuksgewyse wysiging” te verhoed.


Maar, sê sy, dit is belangrik om klarigheid te gee oor wat ’n woning behels. Sy sê hulle het reeds hieroor klagtes ontvang.


Gemagtigde amptenare moet mense toelaat om op hul erf, in hul tuin, agterplaas, deurgang, pansteel en buitekamer te wees. “Mense moet toegelaat word om in hul woning te wees – nie (net) die binnekant van die woning nie.”


Dausab het gesê die beperking van tien mense geld vir begrafnisse, troues en kerksaamtrekke, maar ook, byvoorbeeld, by ’n outomatiese tellermasjien (OTM) en ’n winkel.


By dié plekke moet die maksimum aantal mense (tien) steeds almal een meter weg van mekaar wees, maskers dra as hulle nie gesond voel nie en nie naby aan mekaar praat nie.


Die noodtoestand het ten doel “om te reageer op die ernstige en naderende bedreiging vir openbare gesondheid” en “om te verseker ons het nie ’n pandemie van ’n omvang wat ons nie kan beheer nie”, maan Dausab.


Die inperkingregulasie geld in dié stadium steeds net vir die Erongo- en Khomasstreek (Rehoboth en Okahandja ingesluit) en sit die in- en uitbewegings uit dié streke uiteen.


Dausab sê die regulasies bemagtig ook die minister van gesondheid en maatskaplike dienste om die situasie deurlopend te monitor waarvolgens ingrypings bygewerk sal word.


Die verwagting is dat die hele land spoedig amptelik ingeperk sal wees.


- denver@republikein.com.na

© 2020 By NMH