O.21’s moet maar manswêreld verower


Andrew Poolman - ’n Goue era verstryk vanjaar vir ’n besonder talentvolle Namibiese onder 21-mansgroep in kanopolo, wat vanweë die ontwrigting van die wêreldwye viruspandemie waarskynlik nie hul oomblik in die son sal kan geniet nie.


Die goeie nuus is darem dat dieselfde groep se vordering na die senior mansafdeling Namibië steeds op koers plaas om in dié opwindende watersport spiere te bult en vir vele hoogtepunte te sorg.


“Ons sou vanjaar ’n groep kon saamstel wat onder die toptien spanne by die wêreldkampioenskap kon eindig.


“Die toernooi was vir September vanjaar in Rome geskeduleer, maar vanweë die Covid-19-pandemie se dodelike tol in Italië en die res van Wes-Europa is die aanduidinge eerder dat dit vanjaar glad nie sal geskied nie,” sê mnr. Anton Jacobie, visepresident van die Namibiese Watersportfederasie.


Volgens hom is die talent in die Namibiese o.21-manspan sodanig dat feitlik elkeen van die individuele spelers in Suid-Afrika se Proteas-span sou instap indien hulle vir die buurland gekwalifiseer het.


Vier van dié jong Namibiërs wat in Johannesburg en Potchefstroom studeer, het vroeg in Maart saamgespan om die Dabz 4vs4 kanopolo-toernooi vir spanne van vier in Johannesburg te wen.


Karl Jacobie, Wickus Nel, Gernot Schaaf en Ruan Hechter het onder die naam Windhoek Canoe Club Team ingeskryf en het ses van Suid-Afrika se sterkste klubspanne uitgestof om die kompetisie te wen.


Schaaf (Noordwes-Universiteit) en sy drie spanmaats van die Universiteit van Johannesburg (UJ) was deurgaans op die water, sonder dat hulle ’n reserwe tot hul beskikking gehad het.


“Al vier hierdie spelers het in die laaste twee of drie wêreldkampioenskappe vir die Namibiese o.21-span gespeel.


“Ek twyfel geensins dat ons o.21-span vanjaar die Suid-Afrikaanse kanopolo-kampioenskap sou gewen het nie.”


Hoewel die 2020 wêreldkampioenskap in kanopolo nog nie amptelik afgestel is nie, lyk dit in verskeie opsigte gedoem.


“Italië se landwye inperking strek tans tot einde Julie. Selfs ’n ambisieuse hoop om die toernooi nog in Desember dalk in ’n buurland te laat gebeur, sal waarskynlik nie genoeg tyd vooraf toelaat net om die besoekende spanne se visumprosesse af te handel nie. Ek glo dit sal onrealisties wees om te verwag dat die toernooi sal voortgaan nadat selfs die Olimpiese Spele reeds met ’n jaar uitgestel is.”


Jacobie sê ’n alternatief is om dalk sodra die omstandighede weer normaliseer, eerder van die Europese spanne tydens hul winterseisoen vir ’n toer na Namibië te nooi. “Dit sal egter eers oorweeg kan word sodra die reisbeperkings opgehef is.”


Jacobie sê dit is hartseer dat so ’n goeie span vanweë omstandighede van hul groot geleentheid ontneem word.


“Vyf of ses van die ouens skuif vanaf 2021 op na die mansgroep, maar dan het ons ’n senior manspan wat opnuut Suid-Afrika se baas behoort te wees. Ek glo ons sal die skietgoed hê om die mans se posisie op die wêreldranglys vanaf 21ste tot omtrent 12de te laat klim.”


Ander prominente spelers wat o.21-tydgenote is, sluit in MC Jacobie en JP Visser, wat beide verlede jaar gekeur was om in ’n elite kompetisie in Europa te speel.


“Die Kanopolo Superliga (CPSL) kies 60 van die topspelers ter wêreld, wat in tien franchise-spanne opgedeel word vir ’n kompetisie wat oor ses weke strek. Die reeks is verlede jaar die eerste keer gehou en in Mei behoort die verkose spelers aangekondig te word vir die 2020-reeks, wat vir Oktober geskeduleer is,” sê Jacobie.


Nog ’n Namibiër, Benna le Roux, het verlede jaar in die Duitse Bundesliga gespeel, waar Wickus Nel veronderstel was om vanjaar ook aan te sluit totdat Covid-19 sake deurmekaar gekrap het.


“Riaan Steyn (voormalige senior nasionale speler) se seun Adriaan speel A-liga in Nieu-Seeland en het een van die voorste doelwagters in die land geword. Voordat hulle geëmigreer het, was Adriaan lid van ons ongelooflike o.21-kombinasie. Vanjaar is die Steyns se laaste jaar van wag voordat hulle Nieu-Seelandse burgerskap kry en ek is seker hy sal vir die Kiwi’s se nasionale span gekies word.”


ONTWIKKEL KAMPIOENE


Jacobie sê die ontwikkeling van kanopolo, roei en watersport in die jonger groepe lyk ook gesond, selfs indien daar nog nie sulke sterk talent soos in die o.21-mansgroep sigbaar is nie.


“Ons het ’n ruk gelede ’n klub op Rehoboth en twee klubs op Walvisbaai begin. Ontwikkeling verg meer tyd as wat van die uitgesproke adminsitrateurs en politici soms besef.


“Ons begin werk met kinders van elf jaar af, om hulle lief vir die sport te maak. Meestal begin ons met ’n uitnodiging aan al die seuns en meisies wat in geen ander sport inpas of tuis voel nie, of selfs dié wat geen sport beoefen nie.


“Toe ons op Rehoboth begin het, kon omtrent 80 persent van die kinders nie swem nie. Dit moet eerste gebeur voordat hulle in kanopolo vordering kan begin maak.”


Jacobie sê hy is diep geraak deur die oënskynlik onafwendbare verlies van een van die mees opwindende vooruitsigte wat hy nóg teëgekom het.


“Ons het ’n 13-jarige meisie gehad wat op Rehoboth skoolgegaan het – in alle opsigte ’n baie oulike kind in wie ek die potensiaal raaksien om ’n Afrika-kampioen en Olimpiese deelnemer in kanoresies te word. Haar naam is Vivian Shiindi (nou 15). Maar toe ons haar in Januarie soek, hoor ons haar ma het haar terug na Ruacana ontbied.


“Kanosport bied haar die kans van ’n leeftyd wat sy dalk nêrens anders gaan kry nie, maar ons hande is afgekap. Geen stelsel in die land bestaan om haar vir die sport te behou teen die ouers se wil nie. Ek glo daar is nog meer sulke kinders wie se talent op soortgelyke maniere verlore gaan.”


Jacobie sê hoewel hy reeds vir 30 jaar by die ontwikkeling van watersport betrokke is, het sy passie vir ontwikkeling nog geensins afgeneem nie.


“Oor die jare het ek al vele ouers gesien kom en gaan, maar ek sal lief bly vir die sport selfs wanneer my eie seuns nie meer daaraan deelneem nie.”


Jacobie is tussendeur ook betrokke by die ontwikkeling van die sport in die res van die vasteland – insluitend Marokko, Egipte, Kenia, Madagaskar, Mauritius en Angola. “As ons kanopolo en roei in Afrika sterk kan maak, sal dit soveel beter en goedkoper wees as om altyd in Europa kompetisie te gaan soek.”

© 2020 By NMH