Ons is die leiers in hierdie stryd

JOHN FREDERICKS SKRYF:

Die moeilike en stresvolle ekonomiese, politieke en sosiale omstandighede waarin ons land en vele ander Afrika-lande hulself in bevind danksy die uitbreek van die coronavirus is betekenisvol in baie opsigte. Dit is nie ‘n tyd in ons menswees om ideologies te wil wees in ons stryd teen Covid-19 nie. Tog is dit verbasend hoeveel ooreenkomste tussen die verspreiding van die koronavirus, kolonialisme, kapitalisme en korrupsie bestaan. Korona blyk op die gesondheidsfront ‘n verwoestende neef van die ander verskynsels te wees, wat politieke en ekonomiese verwoesting gesaai het en steeds so doen. Almal begin met die letter “k” of “c”, as ons Engels gebruik. “Corona, colonialism, corruption and Capitalism.” Nie een van die virusse het hul oorsprong in Afrika nie, maar die impak en gevolge van die virusse op Afrika is van kardinale belang hoe ons reageer op aanslae van buite die grense van ons kontinent en land. In ons stryd teen die koronavirus het ons nie 200 jaar en meer tyd soos in ons stryd teen kolonialisme nie. Daar is diegene wat onkunde saai met rassistiese opmerkings oor korona. Korona, soos kolonialisme, raak almal van ons direk en indirek. Ons het dus ‘n verantwoordelik om betrokke te raak om die verspreiding van die virus te staak met onmiddelike effek. Ons het nie jare tyd om strategieë, ideologieë en kultleierskap te oorweeg voordat ons tot aksie oorgaan nie. Die tyd is nou, en volgens dr. Bernard Haufiku is dit al amper te laat. In ons stryd teen al die virusse het ons hopelik besef dat mag in eenheid lê. Dieselfde eenheid is nou nodig. Elkeen van ons het ‘n rol om te speel. Niemand het die reg om hulself as afhanklikes te beskryf en te verwag andere moet die stryd namens hulle voer nie. Die reëls in die oorlog is eenvoudig: was jou hande gereeld met seep, handhaaf ‘n afstand van twee meter van ander en bly tuis. AK47’s, mortiere, Makarov-pistole, landmyne en ander oorlogsmateriaal is nie nodig nie. Daar is ‘n stryd om te stry en ‘n nasie om te lei – en die leiers in die stryd is jy en ek.

© 2020 By NMH