Ook Mercedes gaan sy aanleg sluit weens corona


Petrus Malherbe – Mercedes-Benz in Suid-Afrika het Maandag aangekondig hy gaan produksie aan nuwe motors by sy aanleg in Oos-Londen begin afskaal te midde van die Covid-19-pandemie.


In ’n verklaring sê die motorvervaardiger hy gaan produksie afskaal en uiteindelik alle bedrywighede by die aanleg op 9 April staak.


Hy beplan om die aanleg minstens vyf weke buite bedryf te hou.


Dié tydperk kan moontlik verleng word, afhangende van “verdere verwikkelinge”.


Intussen gee die maatskappy die versekering dat maatreëls in plek is om die gesondheid en veiligheid van sy werkers in Oos-Londen teen die nuwe coronavirus te beskerm.


Oos-Londen het oor die naweek die eerste stad in die Oos-Kaap geword waar ’n vrou positief vir Covid-19 getoets is.


Dié vrou het Maandag ook uit kwarantyn ontsnap nadat sy geweier het om ingeperk te word om die verspreiding van die virus te probeer keer.


Ook Ford het Maandag aangekondig hy gaan sy aanlegte in Suid-Afrika en elders in die wêreld weens die coronavirus sluit.


Ford se Silverton-aanleg in Pretoria en Stuandale-aanleg in Port Elizabeth sal op 27 Maart vir ’n “paar weke” sluit totdat die pandemie hopelik onder beheer gebring word.


Dit volg minder as ’n week nadat BMW soortgelyke sluitings aangekondig het wat ook sy Rosslyn-aanleg in Pretoria tot minstens 19 April raak.


Teen Maandagmiddag het Suid-Afrika 402 bevestigde gevalle van Covid-19 gehad. – Netwerk24

0 views

© 2020 By NMH