Owerhede het hande vol met hokreëls



Denver Kisting

Die stadspolisie het Saterdag in Havana beslag op 'n kragopwekker gelê waar 'n man besig was om 'n sinkhuis by 'n vierrigting op te rig.


Die man het die polisie na hul kantoor in die hoofstad vergesel en beweer hy was besig om die huis op te rig omdat hy by die lughawe werk. Hy moes glo in kwarantyn wees omdat hy vermoedelik Covid-19 onder lede het. Sers. Fabian ­Amukwelele, stadspolisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Geen verdere besonderhede is in dié stadium bekend nie. Hy sê hulle moes ook Saterdag in Lemon Street in Katutura 'n groep mense uiteen jaag wat besig was om tradisionele drank by 'n huis te drink.


Die huiseienaar het beweer hy het nie geweet van die inperking nie, sê Amukwelele.


Die polisie moes Saterdag ook 'n kerkbyeenkoms onderbreek.


Amukwelele sê die polisie ontvang talle klagtes van supermarkwerknemers by winkelsentrums in Windhoek wat ná hul skofte sonder vervoer gestrand is. Van dié werknemers sê die geleenthede waarvan hulle gewoonlik gebruik maak, is nie beskikbaar nie.


Adj.komm. Kauna Shikwambi, nasionale polisiewoordvoerder, sê mense het tot dusver in die algemeen hul samewerking gegee.


Hulle moes wel by sekere supermarkte intree waar meer as 10 mense op 'n slag teenwoordig was, en mense nie die nodige afstand van mekaar handhaaf nie. Sommige kroegeienaars in die hoofstad het aangevoer hulle is verward oor of hulle mag oop wees en tot hoe laat, sê Shikwambi. Die regulasies het drankverkope vir die duur van die inperking opgeskort.


Lt.kol. Petrus Shilumbu, woordvoerder van die Namibiese weermag (NDF), sê geen ernstige voorvalle is by hulle aangemeld nie.– denver@republikein.com.na

© 2020 By NMH