Polisie kom in vrede

Geen rede vir paniek

Hage Geingob; President; “Die regering besef dat hierdie drastiese maatreëls is.”

Polisiebeamptes is gereed om te beskerm en te dien. Foto Nampol


Swakopmund • irene-mari@erongo.com.na Die Namibiese polisiediens waarsku dat dit die nodige stappe sal doen om te verseker dat veiligheidsmaatreëls wat deur president Hage Geingob afgekondig is om die verspreiding van COVID-19 te bekamp, toegepas word. Pres. Geingob het op 17 Maart ’n noodtoestand afgekondig toe die eerste COVID-19 gevalle in Namibië bevestig is. Namibië se COVID-19 gevalle staan tans op sewe. Geingob het gesê dat die beweging van inwoners van die Khomas- en Erongostreek vanaf middernag op Vrydag, 27 Maart tot Donderdag, 16 April beperk gaan word. “Die regering besef hierdie is drastiese maatreëls, maar dit is noodsaaklik om toe te pas om die gesondheid, sekuriteit en veiligheid van alle Namibiërs te verseker,” het die president tydens ’n mediakonferensie gesê. Adjunkkommisaris Kauna Shikwambi het namens die polisiediens gesê dat daar geen rede vir vrees of paniek is nie. Polisiebetrokkenheid kan dikwels lede van die publiek geïntimideerd laat voel, maar Shikwambi het die versekering gegee dat die polisiediens nie kwaad wil stook nie. “Ons sal soos gewoonlik met ons werk voortgaan. Vingerafdrukke sal vir tyd en wyl nie geneem word tensy dit ’n noodgeval is nie. Lede van die mag sal areas patrolleer en groot groepe opbreek, veral die jeug wat geneig is om in groepe saam te drom. Ons sal dit egter op die mees vreedsame wyse moontlik doen,” sê sy. Die algehele beweging van mense is nie opgeskort nie, maar Shikwambi sê indien so ’n besluit geneem word, sal die polisie die maatreëls streng toepas. “Ons wil hê die publiek moet rustig wees en die reëls volg. Ons is nie hier om mense te skiet of seer te maak nie. Ons wil hê hierdie kwessie moet so vinnig as moontlik sy gang loop. Dit sal egter net gebeur as almal doen wat die regering van hulle verwag,” sê sy.

2 views

© 2020 By NMH