Private hospitale gaan pasiënte 'nie rug toekeer'


Henriette Lamprecht – Private hospitale in die land is gevra om geskikte sale en kamers te identifiseer om Covid-19-pasiënte te huisves.


Laasgenoemde moet ander pasiënte nie bedreig of blootstel nie.


Volgens ’n ingeligte bron is dit tans ’n versoek, maar kan later ’n opdrag word.


Die bron sê in ’n noodtoestand word die staat die “enigste jurielid” en kan hy enige geriewe opdrag gee om dié pasiënte te hanteer.


Laasgenoemde kan net gebeur op voorwaarde dat staatsgeriewe “oorvol” is.


“Private hospitale gaan dié mense nie die rug toekeer nie. Die hospitale is reeds versoek om ’n gedeelte van ’n saal of vleuel hiervoor in te rig,” sê die bron.


Verteenwoordigers van die Namibiese Vereniging vir Private Gesondheidsgeriewe (NAPH) werk nou saam met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) om alle verwante kwessies te takel oor die rol wat gesondheidsgeriewe in die huidige omstandighede moet vervul.


Dit sluit ook voorbereidings op moontlike scenario’s in wat hieruit kan spruit, het die vereniging by monde van sy sekretaresse, me. Anthea van Wyk, gesê.


NAPH verteenwoordig die belange van meer as 30 private hospitale en gesondheidsgeriewe oraloor die land.


Volgens NAPH staar “ongekende uitdagings” die gesondheidsorgbedryf in Namibië in die gesig in die lig van die Covid-19-pandemie en die maatreëls wat geïmplementeer is in ’n poging om die verspreiding van die virus hok te slaan.


“Inligting word met ons lede gedeel soos ons dit van die ministerie ontvang. Alle geriewe is opdrag gegee om te verseker hulle is voorbereid daarop om Covid-19-gevalle te bestuur indien nodig,” het sy gesê.


Windhoek Mediclinic het ’n eenheid geïdentifiseer en is besig om dit volgens die vereiste spesifikasies voor te berei om Covid-9-pasiënte te behandel, sou hulle dié opdrag van die ministerie ontvang.


Volgens hul pasiëntebestuurder, me. Dezne Colmer, het die hospitaal standaardprosedures om die ontvouende situasie te hanteer.


Protokol word tans gevolg met betrekking tot die identifisering, toetsing en aanmelding van Covid-19-gevalle, in ooreenstemming met die ministerie en die sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) se riglyne.


Met verwysing na die hantering van vermoedelike Covid-19-pasiënte word protokol van MoHSS en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) gevolg, sê Colmer.


Volgens haar kan die hospitaal tans met die sifting en bepaling van ’n pasiënt se risiko help en waar nodig pasiënte vir toetsing verwys.


“Alle Covid-19-pasiënte wat hospitalisasie vereis, sal na ’n aangewese staatshospitaal verwys word,” sê sy.


Die Lady Pohamba Private Hospitaal se algemene bestuurder, me. Hannelie Botha, sê die hospitaal is in die proses om ’n private saal vir Covid-19-pasiënte gereed te kry.


Indien vermoedelike gevalle wél deur ’n dokter ondersoek moet word, sal net een personeellid in beskermende drag (PPE) hulle deur ’n agterdeur na ’n isolasiekamer begelei.


’n Dokter, ook in beskermende drag, sal die pasiënt ondersoek en die toepaslike toetse aanvra.


“Die pasiënt bly dan in isolasie met net een verpleegkundige wat na hom of haar kyk tot toetse bevestig is. Indien wel positief word die proses soos bepaal deur MoHSS gevolg,” het sy verduidelik.


Laasgenoemde behels tans dat die pasiënt na ’n staatshospitaal se isolasie-eenheid oorgeplaas word.


– henriette@republikein.com.na

© 2020 By NMH