Reisverbod geld nou vir álle lande

In ‘n poging om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan, het Namibië sy reisverbod na alle lande in die wêreld verbreed.

Dié verbod is vir 30 dae van krag en geld vir alle Namibiërs en inwoners met permanente verblyfreg, het pres. Hage Geingob vanmiddag gesê.

Geingob het gesê spesiale omstandighede sal oorweeg word vir mense wat Namibië wil binnekom.

Dit sal deur die “betrokke instellings” oorweeg en goedgekeur word en sal afhang van die aard van die reis en die belangrikheid daarvan. Die nasionale belang en veiligheid en sekuriteit van Namibië sal in ag geneem word, het hy gesê.

Alle Namibiërs en permanente inwoners wat van hoë-risikolande terugkeer, is verplig om, op eie koste, vir 14 dae onder toesig in kwarantyn te wees.

Spesiale vergunning geld wederkerig vir sake-ondernemings, asook handelsendings en –bedrywighede van buurlande. Dit is om die vloei van voorrade, goedere, kommoditeite en dienste na Namibië moontlik te maak, het Geingob gesê.

Besoekers van buurlande wat ingevolge bogenoemde na Namibië kom, sal net toegelaat word indien hul besoek in nasionale belang is en nie die veiligheid en sekuriteit van die land bedreig nie.

Alle staatsdiensamptenare, asook werknemers van ondernemings in staatsbesit (SOE’s) en die private sektor moet vir die volgende 14 dae van die huis af werk, behalwe vir die diegene wat noodsaaklike dienste verskaf.

Meer besonderhede oor dié kategorie sal in die komende dae bekend gemaak word.

© 2020 By NMH