SA Reserwebank haal die ‘bazooka’ met terugkoop uit

Tree beslissend op

Nellie Brand-Jonker





Die maatreëls wat die Reserwebank Woensdagoggend aangekondig het, is beskryf as ’n “bazooka” wat nou uitgehaal is om die impak van Covid-19 op die effektemark te beperk.


“Die Reserwebank het sy blaaspypie na ’n bazooka verbeter,” het Peter Attard Montalto, ekonoom van Intellidex, gesê.


Die Reserwebank het Woensdagoggend aangekondig hy gaan staatseffekte van beleggers terugkoop ten einde ’n groot tekort aan kontant in die finansieringsmark in die land te verlig.


Die Reserwebank sê dit sal likiditeit verskaf en die gladde funksionering van die plaaslike finansiële markte bevorder.


“Dit is ’n baie nodige stap, die Rubicon is oorgesteek deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) in reaksie op die ineenstorting van plaaslike likiditeit en die wanfunksionering van die effektemark die afgelope dae.”


Volgens Montalto het toestande vir likiditeit so agteruitgegaan dat die effektemark in werklikheid wanfunksioneel geraak het.


“Die SARB het beslissend ingetree en sy gereedskap na ’n bazooka verbeter.”


Die Reserwebank het verlede Vrydag ook sekere maatreëls aangekondig om banke te help. Die terugvoering uit konsultasies met rolspelers in die mark die afgelope tyd het “duidelik vir die SARB getoon meer is nodig”.


Daar word in die mark daarna as ’n kwantitatiewe verruiming verwys, wat volgens batebestuurders die eerste keer is dat die SARB dit toepas.


Montalto twyfel egter of dit kwantitatiewe verruiming genoem kan word.


Dit is ’n term waarmee beleggers bekend begin word het sedert 2008 toe sentrale banke wêreldwyd sulke maatreëls aangekondig het om die bankstelsels te ondersteun.


Montalto verkies om dit “die terugkoop van bates” te noem.


Die SARB noem dit ook nie kwantitatiewe verruiming nie.


Hoekom dít ’n kwessie is, is omdat dit polities is. “Die linkses het toenemend (voor die krisis) vir ’n reuse-stimulus van die nasionale tesourie gevra wat deur kwantitatiewe verruiming ondersteun word, wat sowel die SARB as die tesourie sal wil vermy.”


Hy meen hoewel die SARB dit wil verkoop as ’n “likiditeitsoperasie”, kan die politieke implikasies moontlik gekompliseerd raak.


“Die SARB mag dalk gekritiseer word dat hy nie in die verlede stimulus aangekondig het om armoede te verlig nie.”


Verder glo Montalto daar hang nog ’n paar vrae in die lug, soos wanneer en hoe dit gaan plaasvind, en waar die geld vandaan gaan kom.


“Die SARB het nog nie gesê waar die kontant vandaan gaan kom nie. Dit is ’n belangrike kwessie.”


Volgens hom is daar gerugte dat deposito’s van R60 miljard van die nasionale tesourie wat in bewaring by die SARB gehou word, gebruik gaan word.


“Dit sal beteken die nasionale tesourie koop sy eie effekte terug. In plaas daarvan glo ons die SARB gaan nuwe geld druk om dit te doen.”


Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê die SARB het ’n “onbeperkte terugkoop van staatseffekte aangekondig”.


Sy noem dit kwantitatiewe verruiming.


Volgens haar het die skerp styging in markkoerse Dinsdag die instelling van hierdie maatreëls deur die SARB versnel.


Dit het die markkoerse van staatseffekte ietwat laat herstel, maar nie tot die vlakke waar dit voor die krisis was nie. “Dit dui wel op ’n mate van onsekerheid in die mark wat verminder is.”


Volgens haar het dit ook tot die effense versterking van die rand gelei. – Netwerk24

© 2020 By NMH