SA visserye mag tydelik sonder lisensies werk


William Horne – Die departement van omgewingsake het te midde van die ontwrigting rondom die staat van inperking ’n vergunning gemaak dat onder meer visserye tydelik mag visvang, al het hul lisensies verval.


Die departement sê Dinsdag in ’n verklaring die tydelike kwytskelding vir drie maande is ook om kontak tussen mense in die bedryf en die departement se personeel weens Covid-19 te beperk.


Die kwytskelding sal geld vir enige persoon of entiteit wat ’n lisensie, permit of magtiging ingevolge die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne van 1998 het en waarvan die lisensie op of ná 1 Maart verval het en dus hernu moes word.


Visserye en waterboerdery-ondernemings val onder noodsaaklike dienste van kosverskaffers, wie se bedrywighede nie tydens die staat van inperking gestaak moet word nie.


Lisensies wat verval het, sal nou tot en met 23 Junie geldig wees.


Mense moet egter die amptelike kennisgewing van die vergunning en die lisensie wat verval het byderhand hou omdat inspeksies steeds sal plaasvind. – Netwerk24

© 2020 By NMH