Siya se pleidooi aan Suid-Afrikaners



Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke en die Stormers, het 'n pleidooi aan Suid-Afrikaners gelewer om hulle by die maatreëls van die Covid-19-inperking te hou. “Dit is 'n baie moeilike tyd vir ons land en eintlik die hele wêreld. Ons moet saam daarteen baklei. Jy kan aan die stappe wat die regering toepas, sien hoe ernstig dit beskou word,” sê Kolisi in 'n video wat deur die Westelike Provinsie uitgestuur is. “As jy voel dat jy nie veel kan doen nie, bly net by die huis, want dit steun ook wat die president (Cyril Ramaphosa) van jou vra. “As jy 'n bydrae kan lewer deur kos aanlyn vir behoeftige mense te koop, is dit 'n bydrae ongeag hoe groot of klein dit is. Ons veg almal saam.” Volgens Kolisi bly die Stormers fiks om seker te maak dat hulle onmiddellik weer sal kan speel nadat die Covid-19-pandemie geklop is. “Ons moet die inperking gehoorsaam, maar die dag wanneer Covid-19 iets van die verlede is, moet ons reg wees om te speel,” sê hy. – Netwerk24

© 2020 By NMH