SMN: Nóú is die tyd vir verandering


So tussen die kommer oor wat hierdie virus aan ons kan doen, gebeur iets wonderlik: Die feit dat meeste fabrieke gesluit is, minder vliegtuie in die lug is en meeste van ons nie heen en weer tussen werk hoef te pendel nie, het ’n reuseimpak op die natuur. Julle het waarskynlik al foto’s gesien van hoeveel skoner die lug in China en Italië is, so ook die water van die Grand Canal in Venesië. Die coronavirus het gelei tot ’n verstommende afskaling in ekonomiese aktiwiteite en ’n drastiese afname in die gebruik van fossielbrandstowwe. In China het maatreëls om die virus hok te slaan, ’n daling van ongeveer 25% in koolstofvrystellings meegebring. Wetenskaplikes meen daar is in dié tyd ’n ongelooflike 200 miljoen ton minder koolstofdioksied in die lug vrygestel! Niemand stry dat die pandemie’n tragedie is nie. Maar, soos die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies onlangs gesê het, is die bedreiging van Covid-19 tydelik, terwyl die bedreiging van hittegolwe, oorstromings en geweldige storms bly toeneem. Moet die krisis dan juis nie ’n wake-up call vir almal wees nie? Dat ons besin oor hoe elkeen van ons ’n daadwerklike verskil kan maak om ’n beter, gesonder toekoms vir onsself en ons nageslag te bou nie? Dalk, terwyl ons besig is om blikkieskos en toiletpapier op te gaar, neem ons behoefte aan nice to haves af? Dalk besef ons dat dit regtig nie nodig is om kantoorgebonde te wees om jou werk te verrig nie? Want afgesien van die fabrieke wat gifstowwe in die lug in pomp, kan jou gedrag ook ’n impak maak. Hoekom kan en móét jou gedrag ’n verskil maak? Omdat wetenskaplikes meen hierdie verbeterde luggehalte en die skoner natuur is nie van lange duur nie en dat alles na “gewone” (lees vuil) vlakke sal terugkeer sodra die krisis verby is. “Sodra die Chinese ekonomie herstel, verwag ons ’n reusetoename in vrystellings om verlore produksietyd in te haal,” sê die klimaatswetenskaplike Zeke Huasfather. “Oor die algemeen is die enigste werklike tye wat ons die afgelope dekades wêreldwyd ’n vermindering in uitlaatgasse gesien het, tydens groot resessies. Maar selfs dan is die gevolge kleiner as wat mens dink.” Hy sê voorts, kry ons in sulke tye’n blik op ’n beter wêreld – een wat nie in kweekhuisgasse verstik nie. Eintlik meen wetenskaplikes die gebruik van fossielbrandstowwe sal wêreldwyd met ongeveer 10% moet afneem en ’n jaar lank volgehou word om ’n noemenswaardige verskil in CO2-vlakke mee te bring. Maria Castellina van Friends of the Earth, het gesê die coronavirus is ’n herinnering dat ons almal deel is van ’n globale gemeenskap en dat ons moet saamwerk om probleme op te los. “Dit is ’n kans om medelye te betoon; om die ouer garde te help; om jouself af te sonder om ander mense te beskerm. Gebruik vriendelikheid en aanpasbaarheid as grondslag om ander wêreldwye krisisse aan te pak.” Dit is nie te laat om jou gewoontes te verander nie – hoe gering ook al, kan dit ’n beter toekoms vir almal skep.

© 2020 By NMH