Swak kommunikasie rem lorries



Ronelle Rademeyer

'n Hoëvlakvergadering tussen belanghebbende ministers en afgevaardigdes van die Namibië Logistiekevereniging (NLA) is gistermiddag in Windhoek gehou om Saterdag se fiasko met die hantering van vragmotors wat noodvoorrade uit Suid-Afrika bring, te bespreek.


Swak kommunikasie tussen die gesondheidsministerie se hoofkantoor en die gesondheidspersoneel by padblokkades na die Khomasstreek het die skuld gekry vir vragmotors met noodsaaklike produkte wat ure lank buite Rehoboth en by Seeis opgehou is.


Onsekerheid het geheers oor of die trokdrywers in kwarantyn geplaas moet word of nie.


Selfs ná pres. Hage Geingob Saterdagaand onverwags opgedaag het by die taxistaanplek neffens Wernhil Park, waarheen van die vragmotors eindelik teen skemeraand deur die polisie begelei is, het soortgelyke probleme gister voorgekom.


Dit is op 'n WhatsApp-groep van vervoermaatskappye gerapporteer.


Geingob is deur mnr. Ben Nangombe, uitvoerende direkteur in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, by die informele vergadering meegedeel Namibiërs wat met goederevragte uit Suid-Afrika terugkeer, sal vir 14 dae in kwarantyn geplaas word. ?Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders wat net die vragte aflaai en dadelik weer na Suid-Afrika vertrek, sal dit vryspring. As Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders egter langer in die land aanbly, moet hulle ook eers 14 dae in kwarantyn deurbring.


Dr. Bernard Haufiku, nasionale koördineerder van die Covid-19-taakspan, het in 'n stemboodskap wat op dié betrokke WhatsApp-groep gedeel is, gesê swak kommunikasie in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het meegebring dat vragmotors by die padblokkades suid van Rehoboth en by Seeis oos van Windhoek gestop is.


“Hulle was nie veronderstel om die vragmotors te stop nie. (Mnr.) Etienne Maritz (uitvoerende direkteur van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie en veiligheid en sekuriteit) sê wanneer die vragmotors by die grensposte deurgelaat word, is daar geen rede waarom hulle by padblokkades voorgekeer moet word nie,” sê hy in die stemboodskap.


Hy sê hulle moet toegelaat word om vrag af te laai en na Suid-Afrika terug te keer.


“Die vragmotorbestuurders sal riglyne ontvang oor die standaardprosedure wat gevolg moet word om die verspreiding van die coronavirus te verkom,” sê Haufiku.


Volgens inligting is meer as 60 vragmotorbestuurders wat na Windhoek op pad is se koors by padblokkades gemeet en is hulle vir simptome van Covid-19 ondervra. Altesaam 29 van hulle is by plekke in en om Windhoek in kwarantyn geplaas.


Mnr. Markus van der Merwe, besturende direkteur van Imperial Logistics, sê die vragmotors wat by Wernhil Park byeengekom het, is na die plekke begelei waar hulle vragte moes aflaai, waarná die lorries na hul onderskeie depots kon ry.


Hy kon nie bevestig hoeveel vragmotorbestuurders na plekke van kwarantyn geneem is nie.


Foto's op die groep wys hoe vragmotors ontsmet is.


Teen druktyd was die vergadering tussen Van der Merwe vergesel van die NLA se voorsitter, mnr. Harald Schmidt, en ministers Leon Jooste van staatsondernemings, Calle Schlett­wein van landbou, water en grondhervorming, Lucia Iipumbu van nywerheidsontwikkeling en handel, Frans Kapofi van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Tom Alweendo van myne en energie en John Mutorwa van werke en vervoer nog aan die gang.


– ronelle@republikein.com.na

© 2020 By NMH