‘Trokdrywers ’n nasionale bate’

Vervoerbedryf wil owerhede se hande vat


Ronelle Rademeyer – “Ons drywers is nou ons belangrikste bate en ons moet na hul welsyn omsien. Soos dinge nou aangaan, kan dit vir hulle te veel word en hulle kan breekpunt bereik. “Ons moet onthou hulle kan nie ná hulle vragte afgelaai het, na hul families terugkeer nie. Hulle slaap in hul vragmotors se kajuite, of meld by ’n plek van kwarantyn aan.” Só het mnr. Harald Schmidt, sekretaris-generaal van die Namibië Logistiekvereniging (NLA), gister die saak van langafstand-trokdrywers bepleit wat sedert Saterdag ure lank by padblokkades na en vanaf die Khomasstreek opgehou word. Só byvoorbeeld is vragmotorbestuurders Maandagaand aangesê om by die twee padblokkades buite Okahandja, die een vir kusverkeer en die ander een na die Noorde, te oornag aangesien daar tussen seweuur dié aand en seweuur Dinsdagoggend geen mediese beampte was om Covid-19-skanderings te behartig nie. Dieselfde probleem het later in die dag weer opgeduik en drie vragte met speenkalwers wat onderweg was na voerkrale in Suid-Afrika, moes omdraai en die beeste weer te gaan aflaai om nie onnodige stres vir diere te veroorsaak nie. Veebemarking is een van die aspekte in die landbouwaardeketting wat as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer is. Schmidt het gister gesê hy is baie bekommerd oor die welvaart van trokdrywers. “Die vragmotorbestuurders wat vrag oorgrens vervoer, is van ons mees ervare mense met baie goeie ondervinding en navigasievermoëns. Wat doen ons as hulle sê hulle het genoeg gehad en gaan nie verder noodsaaklike goedere soos kos en medisyne vervoer nie? “Ons moet hulle in ons gebede opdra,” het hy gesê. Voolgens hom is die vervoer- en logistiekbedryf bereid om kundige mense aan die owerhede beskikbaar te stel wat by padblokkades ontplooi kan word “om na die funksionele en operasionele aspekte” om te sien sodat vragverkeer sonder oponthoude kan vloei. Hy sê die vinnige verwerking van permitte, goedkeuring van vragte en doeltreffende kommunikasie is die take waarmee dié bedryf bereid is om die owerhede te help. “Ons is saam in hierdie situasie. Dit is in nasionale belang dat noodsaaklike goedere so vining as moontlik by bestemmings kom,” sê hy. Namibia Media Holdings (NMH) is in gesprek met dié bedryf en die owerhede om as fasiliteerder op te tree in die beskikbaarstelling van bykomende mediese personeel by die padblokkades buite Okahandja, Rehoboth en Seeis. Dit is om te voorkom dat daar nie personeel by padblokkades is om koors-skanderings te doen nie. Botswana het intussen ook gister ’n grendeltyd van 28 dae afgekondig wat môre in werking tree. Die buurland het die versekering gegee dat die vervoer van noodsaaklike goedere ongehinderd kan voortgaan in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se riglyne vir oorgrensverkeer tydens die Covid-19-pandemie. - ronelle@republikein.com.na

© 2020 By NMH