Tweede KLM-vlug land vanoggend


Ministerie skarrel vir isolasieplek


Ronelle Rademeyer - Die groep terugkerende Namibiërs wat vanoggend om 10:00 op ’n vlug van KLM by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako land en dan gesamentlik vir 14 dae in kwarantyn geplaas moet word, het teen laat gister nog nie ’n heenkome gehad nie.


Dr. Bernhard Haufiku, koördineerder van die nasionale Covid-19-taakspan, sê hy het Maandagaand tot laat by die Greiters-konferensie- en -rehabilitasiesentrum met die ouers en families van die groep passasiers vergader wat Saterdag geland het en sedertdien daar in kwarantyn is.


“Hulle het dit duidelik gemaak hulle wil nie die tweede groep passasiers ook daar hê nie,” sê Haufiku.


Hy sê die plasing van die eerste groep van 35 passasiers by Greiters het tot baie negatiewe publisiteit gelei.


Volgens Haufiku sou hy gisteroggend na ’n lodge naby Gobabis gevlieg het om vas te stel of dit ’n geskikte plek is.


“Aangesien ek nog nie my aanstellingsbrief as koördineerder ontvang het nie, het dit nie gebeur nie. Ons was daarná in gesprek met die eienaar van ’n lodge nader aan Windhoek, maar hy is bang vir moontlike negatiewe publisiteit.”


Hy sê in ’n stadium is voorgestel die KLM-vlug moet uitgestel word.


“Maar ons is meegedeel dit is nie moontlik nie.”


Intussen het mnr. Wouter Vermeulen, hoofbestuurder van Air France-KLM in Suider-Afrika, by navraag aan Republikein gesê hy is nie by magte om inligting oor die passasiers op die vlug bekend te maak nie, aangesien dit vertroulik is.


KANKERPASIëNT


Intussen sou die Regshulpsentrum (LAC) gistermiddag namens adv. Irene Visser, een van die groep van 35 by Greiters, ’n brief aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste rig oor haar toestand as kankerpasiënt.


Visser het by navraag gesê sy moet chemoterapie ontvang en kan dit nie kry terwyl sy by Greiters in kwarantyn is nie.


Sy sê indien daar nie gunstig op die LAC se versoek vir self-isolasie tuis gereageer word nie, sal haar regsverteenwoordiger ’n dringende hofaansoek indien.


VERVALLE KOMBUIS


Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het intussen erken die geriewe het areas wat nie “bevorderlik” is om deur mense bewoon te word nie. Volgens hom het die ministerie eers Vrydag gehoor die groep sou die volgende dag in die land aankom.


Nangombe het verwys na foto’s van die vervalle kombuis wat in die sosiale media versprei is.


Volgens hom word geen kos in dié kombuis voorberei nie.


Die groep van 35 Namibiërs word op eie koste onder kwarantyn gehou, maar die regering het vir twee dae kos aan hulle verskaf. Nangombe het beklemtoon die doel was nooit om vir die tydelike inwoners enige ongerief te veroorsaak nie.


Die ministerie het volgens hom weer met die eienaars onderhandel en bykomende skoonmaakspanne is ingestuur.


NamWater het ingespring en waterdruk herstel en Wi-Fi is deur ’n private verskaffer geïnstalleer.


“Ons het hulle nie doelbewus in ’n situasie geplaas wat hul lewens moes bedreig nie. Die toestand van die geriewe dra nie ons goedkeuring weg nie, maar dit word ter wille van openbare gesondheid gedoen,” het Nangombe gesê.


‘LES VIR MINISTERIE’


Hy het die situasie as ’n les vir die ministerie beskou. Met verwysing na die volgende groep Namibiërs wat môre uit die buiteland verwag word, het Nangombe gesê die getal staan tans op 65.


Haufiku het die situasie by Greiters as “redelik onder beheer” beskryf.


Daar is baie angs onder die groep, sê hy.


– henriette@republikein.com.na, ronelle@republikein.com.na

© 2020 By NMH