VSA ambassade gee ruim vir Covid-19-bekamping


Die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, me. Lisa Johnson, het Vrydag in ‘n poging om die impak van Covid-19 in Namibië te verminder voertuie en toerusting aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) oorhandig.


Die Amerikaanse ambassade het drie ambulanse, 25 hospitaalbeddens, nege draagbare en ander mediese toerusting ter waarde van meer as N$2 miljoen geskenk.


Die skenking gaan gebruik word om die MoHSS-isolasiegeriewe te ondersteun, waar die ministerie dit die nodigste het.


“Dit is ’n skenking van Amerika se verdedigingsdepartement se humanitêre bystandprogram,” het Johnson gesê.


“Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en –voorkoming (CDC) werk nou saam met die Namibiese regering in pogings om Covid-19 te bekamp,” het dr. Eric Dziuban, die direkteur van die CDC-kantoor in Namibië gesê.


“Ons het ses lede van ons CDC-span, onder leiding van die gesondheidsministerie, wat voltyds saam met die Covid-19-reaksiespan werk.


“Ons fokus is op die oomblik om te voorkom dat die virus versprei. Almal moet gereeld hande was, probeer om nie te veel aan hulle gesigte te raak nie en probeer om ‘n veilige afstand van mekaar te handhaaf. Die belangrikste is om van ander weg te bly as jy siek is,” het Dziuban verduidelik.


Amerika het die afgelope 20 jaar meer as U$100 miljard in Afrika se gesondheid belê.


Van Amerika se bydraes tot die vasteland se gesondheid is U$1,1 miljard, hoofsaaklik deur die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting (Pepfar), aan Namibië geskenk.

© 2020 By NMH