Vyf huurvlugte neem Europeërs na Duitsland

Britte via Gaborone gerepatrieer


Ronelle Rademeyer - ’n Totaal van 2 039 Europeërs en Britte wat in Namibië met vakansie was of hier werk, het sedert die naweek op spesiale huurvlugte huis toe teruggekeer.


Mnr. Reinhard Gärtner, tussentydse uitvoerende direkteur van die Namibië Burgerlugvaartowerheid (NCAA), sê toestemming is aan Lufthansa verleen om vyf vlugte vir dié doel na Namibië te onderneem.


Die eerste vlug, met slegs bemanning aan boord, het Saterdag om 06:50 geland en volgens Flightradar24 Sondag om 10:12 na Frankfurt vertrek.


Hy sê toestemming is van die owerhede verkry dat die bemanning by N/a’an ku sê Lodge buite Windhoek kan tuisgaan.


‘n Propvol Airbus A350 van Lufthansa het Maandag met 293 passasiers aan boord na München gevlieg, terwyl twee vlugte, LH343 en LH 2573, gister na onderskeidelik Frankfurt en München gevlieg het.


Die laaste vlug vertrek vandag van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako af na München, sê me. Neda Jaafari, Lufthansa se woordvoerder vir Europa, die Midde-Ooste en Afrika.


“Met dié vlugte het Lufthansa passasiers meer as 1 000 sitplekke gebied,” sê sy.


’n Lys met die getal mense wat gerepatrieer moes word en hul lande van afkoms is verlede week aan die NCAA voorgelê.


Van die 2 039 mense wat na hul lande terugkeer, is 1 998 buitelanders met verblyfreg in Namibië. Die ander 41 is toeriste wat nog hier gestrand was – agt van Finland, tien van Spanje, sewe van Portugal, ses van Luxemburg, tien van Italië, asook die twee Roemeniërs wat in Namibië in kwarantyn was ná hulle positief vir Covid-19 getoets het.


Italië en Spanje is die lande in Europa wat sover die meeste Covid-19-sterftes gerapporteer het.


Intussen het die Britse hoëkommissariaat met die hulp van ATI Holidays reëlings getref om Britse burgers via Gaborone in Botswana en Addis Abeba in Ethiopë na Brittanje te vlieg.


Volgens mnr. David Cartwright, eienaar van ATI Holidays, het dié toermaatskappy die afgelope 18 jaar alles in sy vermoë gedoen om mense te kry om Namibië te besoek.


“Maar hierdie laaste week het ons naarstiglik probeer om hulle by die huis terug te kry,” het hy op Facebook gesê.


Altesaam 48 Britte het Saterdag op die eerste huurvlug van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako af na Gaborone gevlieg, vanwaar hulle die terugreis verder sou aanpak.


Volgens die lys wat aan die NCAA voorgelê is, is daar sowat 100 Britte in Namibië waarvan 70 aangedui het hulle wil na Brittanje terugkeer.


Lufthansa Group se rederye het sedert 14 Maart meer as 52 000 gestrande Europeërs na Duitsland, Oostenryk, Switserland en België teruggevlieg.


Meer as 270 spesiale vlugte is van 60 lughawens op vyf vastelande onderneem, sê Jaafari.


“Die kliënte is toeroperateurs, passasiersbote en regerings.”


Dertien spesiale vragvlugte met noodvoorrade is ook in hierdie tyd deur dié groep rederye onderneem.


- ronelle@republikein.com.na

© 2020 By NMH